Deel die Kersvreugde met behoeftige mense

Solidariteit Helpende Hand se Mpumalanga-streek het die afgelope jaar bewys dat tweedehandse goedere iemand anders hoop kan gee.

Dit gebeur danksy hulle skenkingswinkels in Bethal, Piet Retief, Witbank, Secunda, Mbombela, Middelburg en Bronkhorstspruit.

Hierdie winkels staan bekend as Ons Winkel, en behalwe vir die skenkings wat verkoop word, kan behoeftige mense ook daar om hulp kom aanklop.

Lees ook: Solidariteit skenk skooltasse aan plaaslike laerskole

Vir Helpende Hand is dit egter belangrik om nie net uit te deel nie, maar om ook ‘n behoorlike assessering van aansoekers te doen om seker te maak dat daar inderdaad nood bestaan voor hulp verleen word.

Die winkels skep nie net werk vir die personeel wat dit bestuur nie, maar met die wins wat uit verkope gemaak word, stel Helpende Hand studiefondse aan kinders in die gemeenskap beskikbaar wat andersins nie verdere studies sou kon beskostig nie.

Lees ook: Reik ‘n helpende hand aan die gemeenskap

Hulle studierigtings wissel van sielkunde, onderwys, binnenshuise ontwerp en ingenieurswese tot verpleegkunde en modeontwerp.

Daar word ook finansiële hulp verleen aan ‘n student wat met sy elektriese ambag besig is, asook aan ‘n sendeling op die Logos Hope-skip.

Om hierdie Kerstyd nog meer spesiaal te maak, het die streek besluit om 30 genomineerde persone se Kerswense te bewaarheid.

Daar sal tydens November en Desember 30 wense ter waarde van R1 000 elk gekies word om hierdie mense se Kersfees ‘n vreugdevolle tyd te maak.

Lees ook: Voeg die daad by die woord en maak vandag nog ‘n verskil

Ander maatskaplike nood is ook vanjaar deur Ons Winkels aangepak. Daar is kospakkies in die hele Mpumalanga-streek uitgedeel en 70 vroue van plakkerskampe het toiletware in ‘n pragtige handsak ontvang.

“Om te dink die goed in jou kaste of huis wat jy nie meer gebruik nie, kan in ‘n studiefonds vir ‘n kind omskep word! Dit maak dat mense dit makliker aan die winkel gee,” sê Alisha de Lange, streeksorganiseerder van die Mpumalanga-streek. “Enigiets is welkom, van klere, kombuisware, linne, meubels tot speelgoed.”

Vir meer besonderhede of om uit te vind waar jou naaste Ons Winkel is, gaan na www.helpendehand.co.za, skakel De Lange by 082-923-1438 of stuur ‘n e-pos na [email protected].

  AUTHOR
Nelspruit Post

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Monday Motivation: 5 songs that will make you work