Mbombela tjoepstil oor munisipale huise

Maggiesdal se opsigters se dae blyk getel te wees.

Mnr. Johan van Wyk, wat al vir agt jaar omsien na 20 huise op dié plaas, waar Mbombela-munisipaliteit laekoste behuising uithuur, sê sover hy weet sal hy en sy twee kollegas vanaf volgende maand nie meer opsigters daar wees nie.

Dit is glo omdat die langverwagte onwikkeling van die area glo sal begin. Nelspruit Post kon dit nie met die munisipaliteit bevestig nie.

Van Wyk het met die koerant gesels nadat die wyksraadslid die munisipaleit gekritiseer het omdat een van die vier plase waaruit Maggiesdal bestaan se elektrisiteitstoevoer onlangs vir ongeveer ‘n maand afgesny was.

Dit glo omdat die kragrekening, wat na verneem word in die omgewing van R65 000 beloop het, nie vereffen is nie.

Van Wyk sê die huurgeld sluit water en elektrisiteit in. Hy voorsien egter elke huurder van ‘n kwitansie en betaal die geld in Mbombela se rekeninge in.

Volgens hom is daar tans in die rekeninge vir die twee areas wat hy bedryf, onderskeidelik ongeveer R493 000 en R480 000.

“Daar is soms probleme om huur in te kry,” gee hy toe. “Mense kry probleme, maar daar is nie slegte mense hier nie. Huurders op ‘n ander plaas het egter ophou huur betaal, wat ander laat vra hoekom hulle dan moet betaal?”

Hy voer aan dat sover hy weet almal nuwe huurkontrakte met Mbombela gesluit het sedert hulle in 2013 ‘n opname gedoen het van die toestande van die huise.

Die area se waterprobleme blyk egter ook om iets van die verlede te wees. Al is die reservoir “vrot”, voorsien Mbombela die inwoners twee keer ‘n week van watertenks, en dit gebeur uiteindelik klokslag.

Van Wyk het egter ernstige bedenkinge oor hoe Mbombela die beoogde ontwikkeling gaan finansier.

“Dit gaan massiewe ontwikkeling verg. Tans is daar net septiese tenks en grondpaaie.”
Hy is besorg daaroor dat die munisipaliteit klaarblyklik dink die drie opsigters word nie meer benodig nie.

“Ons moes al menige maal ingryp om ‘n geplakkery hier te voorkom,” sê Van Wyk.

Hulle maak boonop seker dat mense nie net bloot hul vullis op die plase kom stort nie.
“Wat gebeur as hier niemand is om ‘n ogie te hou nie?”

Mnr. Joseph Ngala, woordvoerder vir die munisipaliteit, het nie op die koerant se verskeie navrae reageer nie.

  AUTHOR
Mireille de Villiers
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Robber abandons rape attempt